Dit sou onmoontlik gewees het om weer kontak te maak, was dit nie vir Maretha en Elize nie. Baie dankie julle twee. Wat n voorreg om al die nuus te lees, die opgewondenheid en hoop, maar ook die seer, wat maar so in elkeen van ons se lewens kom sit het.
Deur die jare het die Here my ongelooflik bederf. Ook getroud met n man wat Christus leef. Nooit gedink ek sou n "pastoriemoeder" wees nie. Ons het 21 jaar lank in Messina gewoon. Zimbabwe lê ons na aan die hart, die mense is honger en verward. Soms het daar tot 18 honger mense hul sit op ons grasperk gekry, en dan moes ons maar net kos voorsien. Dit is nogal uitputtend. In Messina het ons ontsettend baie manne en vroue kampe aangebied. Dit was n heerlike voorreg om te ervaar hoe God lewens kom verander.
Na 21 jaar was ons baie moeg van al die ryery en het in April 2007 na Rustenburg verhuis. Na amper n jaar is ons nog nie behoorlik uitgepak nie, maar baie besig en aan die gang. Soggens werk ek by CANSA, in die middae bied ek kunsklasse aan, iets wat ek baie geniet, daarna kom berading aan die beurt en verder is ek betrokke by die kerk se bedrywighede.
Ons is ongelooflik bevoorreg om twee pragtige kinders te hê, wat die Here voluit dien. Zelda word hierdie jaar 23 en is in haar 5de jaar besig met Teologie. Sy was vir 4 maande in Oostenryk besig met studies daar. Het die voorreg gehad om Europa ook sommer binne twee weke kaf te draf, daarna eksamens te skryf en boonop Johan Botha (die volgende Pavarotti) te ontmoet en by hulle aan huis te kuier. Die reis- gogga het haar gebyt. Wil Januarie, Turkye gaan besoek.
Peter ons jongste is 2o jaar en 2de jaar teologiese student. Baie opwindend met al die Teoloë hier rondom my! Hy droom ook om eendag as uitruilstudent na of Oostenryk, Frankryk of Amerika te gaan.
Alma mater, so deur die loop van jare het ons ook hier en daar van die lief en leed verneem. Ons bid saam met elkeen wat ook deur die worstelstryd van kanker gaan. Ons bid vir Goddelike aanraking en genesing. Ons eer die Here vir die wat genees is. Mag Hy steeds die Lig op ons elkeen se pad wees.
Sterkte en seën.
Elna
No comments:
Post a Comment