Monday, April 28, 2008

Natie Coetzer

Hallo aan almal,

Ja, soos julle reeds gelees het was ek en Jakkie Phaal toe na skool saam weermag toe. 'n Hele paar benoude oomblikke saam beleef maar deur die Here se genade geen " lek plekke " opgedoen nie asook vir die 10 jaar se weermag kampe wat daarna gevolg het nie.

Ek is in 1982 met Evelyn getroud, het 2 pragtige dogters, Maureen ( 24 ) en Shanelle ( 14 ) wat ons wonderlike vreugdevolle tye elke dag laat beleef en waarvoor ons die Here ewig dankbaar sal wees. Maureen was hoofdogter van Hoërskool Delmas en het verlede jaar haar graad in verbruikers Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Shanelle is in Wonderboom Hoërskool graad 9.

Ek het na 21 jaar ( 1999 ) 'n baie suksesvolle en geseënde bankloopbaan verruil vir die sakewêreld toe ek vanaf Delmas , waar ek Bankbestuurder van Absa was na Burgersfort verhuis het. In die proses is ek van my vrou geskei. Ek en my swaer het elk 'n vulstasie op die dorpie aangeskaf en het in ons wildste drome nie kon droom wat die Liewe Vader vir ons lewens beplan het nie. Binne 'n bestek van 2 jaar nadat ons hier aangeland het , het myne oral rondom ons begin opskiet en het ek betrokke geraak by 'n konstruksie maatskappy wat ek in 2002 oorgeneem het - Construction 2yk .

Ek is weer getroud met Lenette wat nie net my sielsgenoot is nie maar in die besigheid my regter en liker hand is. Dit is natuurlik onmoonlik om 30 jaar se opwindende lewe in so 'n klein spasie op te som en sien ons baie uit na die naweek van 3-5Oktober. Ek mis hierdie geleentheid vir niks in die wêreld nie en as dit die Here se wil is en ons leef sien ons julle daar.

Liefde Groete

Natie

Ronel se bydrae

Hallo almal. Maretha het gevra dat ek ook maar my ou storietjie vertel. Ek het na matriek by NKP geswot en klaargemaak. Ek het vir vier jaar in die ou Noord Transvaal skoolgehou en toe saam met my man en babaseuntjie teruggekom Pretoria toe. Skoolhou by Langenhoven Hoerskool was 'n katastrofe en ek het na twee weke besluit ek gaan liewers programmering doen. Na 20 jaar is ek nog steeds in IT. Ek het maar aanhou swot tot ek besluit het ek is nou heeltemal klaar daarmee. 'n Tikkursus gaan vir my nou te veel wees.

My oudste seun is 21, my tweede een 18 en my dogter 16. Ons bly in Eldoraigne en ek ry elke dag Linbro Park in Johannesburg toe waar ek vir 'n maatskappy werk wat farmaseutiese produkte versprei. Ek is nou 3 jaar daar nadat ek my deel gedoen het in die staatsdiens vir die 6 jaar voor dit.

My man is 'n ou motorfiets ryer en ek het so 3 jaar terug ook begin ry. Ons het al heelwat met ons fietse getoer (=/- 15 000km). Ons is al 2 keer deur Botswana en het met 'n redelike groot groep deur Baviaanskloof, Knysna,Rooibergpas,Oudshoorn getoer vir 10 dae. Die volgende toer wat ons beplan is deur Namibie. Net ingeval julle dink ons doen dit op die sagte manier, ons ry grondpad, al die pad. Teerpad is net daar om te kruis as dit nodig is of as daar nie 'n ander manier is om by petrol uit te kom nie. Ons ry alles saam op die fietse. Huis, kombuis, bed, gereedskap, noodhulpkas ......

Ek sien uit daarna om die bekendes weer te sien. Ek kan ongelukkig party van julle onthou nie, miskien moet julle maar meer fotos pos.

Elize, Maretha waar het ons al oral geadverteer? Ek sien nog net 5 het gestem. Kan ons help met iets? My groot projekte is nou amper klaar so ek kan weer begin asem skep.

Herkie groete.

Wednesday, April 16, 2008

Elize en Maretha kuier saam

Elize en ek het verlede week Woensdagaand weer ontmoet na soveel jare en 'n hond uit 'n bos gekuier. Die beste deel van die besoek was toe ons deur die foto albums geblaai het en probeer het om almal se name te onthou. Ai tog, en die herinneringe aan daardie goeie, sorgelose dae.


Elize, ons wil net vir jou en Ina, wat eintlik die bal aan die rol gesit het, bedank. Sonder julle inspirasie en aanvoor werk sou ons gewis nie nou al 'n datum of 'n venue gehad het nie. Natie, dankie vir die deposito. Elize het saam met haar man Johan, sy skool se reunie te Willem Prinsloo Landbou Museum bygewoon en die terrein vir ons reunie bespreek. Daleen op haar beurt ken die mense wat die etes verskaf.

Ons wil graag julle insette rondom die etes hê. Miskien kan ons die Vrydag aand iets soos Kerrie en Rys of Lasagne reël. Dan 'n lekker "Brunch" vir later die Saterdag oggend. Die wat vroeg oggend moet pille drink, kan maar beskuit of kitspap saam bring vir die doel. Saterdagaand hou ons 'n lekker braai en kan reël dat hulle vir ons die pap, sous en slaai voorsien. Sondag oggend kan elkeen na sy eie ontbyt omsien, voordat ons groet en huiswaarts keer.



Laat weet asseblief wat julle dink, so teen 15 Mei 2008, sodat ons 'n kwotasie vir die etes kan kry. Kan julle asb. ook 'n aanduiding gee wie almal die reunie gaan bywoon. Klik sommer net op die Comments hieronder en voeg jou naam by.



Maretha

Saturday, April 12, 2008

Hallo Hercies van 1978 - Jakkie

Hallo aan almal,

Eerstens wil ek net aan almal baie dankie se vir al die gebede! Dit is so wondelik om te weet dat ons 'n Lewende God aanbid en dat geen siekte vir Hom te groot is nie! Ek het fantastiese nuus gekry en alle eer aan Hom!!! Dit gaan wonderlik met my en het ek alle rede om voluit te lewe.

Ek het na weermag (Natuurlik saam met Natie - wat my met my erge hoogtevrees en al oorreed het om saam met hom Valskerm Batajon toe te gaan) vir omtrent agt jaar in die bankwese gewerk. Ek het daarna vir ons almal se nagmerrie "SARS" (Doeane en Aksyns) gaan werk, maar het sowat agt jaar gelede in die privaat sektor by 'n "Clearing & Forwarding" maatskappy in Kemptonpark begin werk. Ek geniet my werk ontsettend en is bevoorreg om so gelukkig te wees.

Ek was met Yvonne Flynn (Tuine Hoerskool - Marene sal weet wie sy is) getroud en het ons twee pragtige dogters. Jeanne-Marie(19) en Monique(17). Jeanne-Marie swot tans grafiese ontwerp en binnehuise versiering en Monique is nou in graad elf, in Bloemfontein, op skool.

Ek hou myself nog steeds met die sport besig en speel ten minste een keer per week "action cricket" en golf! Die beweeglikheid is nie regtig meer wat dit moet wees nie, maar ons probeer!!!!!! Ek speel al vir die laaste ongeveer vyftien jaar vir Gauteng Noord en was in 1995 & 1996 deel van die SA span wat Engeland toe getoer het. Ek is aan die begin van die jaar weer aangestel as 'n Suid Afrikaanse keurder en is ook die bestuurder van een van die spanne wat in Oktober 2008, na die wereldbeker in New Zealand toe gaan - EK HOU MAAR DUIM VAS DAT DIT NIE IN DIE REUNIE TYD VAL NIE!!!!!

Ek bly nog al die jare in Pretoria en skree nog steeds vir die 2008 FLOU BULLE!!!

Dit is absoluut fantasties om van almal te hoor en sien ek verskriklik baie uit na hierdie reunie!

Weereens baie dankie vir die gebede en ek wil ook vir Natie en Lynette baie dankie se vir hulle ondersteuning!! Die naweek saam met hulle was "awesome" en die tydjie wat ek en hy op die Saterdagoggend daar in die koppies spandeer het, was vir my 'n nuwe openbaring. Ek het opnuut weer die vrede van ons Lewende Vader ervaar en het ek weereens besef dat alles moontlik is en dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my die krag gee! Baie dankie, ou maat!!!!!!!

Hercules Groete,

Jakkie

Tuesday, April 8, 2008

Elize

Hallo Julle,

Ek is so opgewonde dis so lekker om van julle te hoor. Ek is bly dat Francois die baanbrekerwerk vir die manne gedoen het. Natie het vanmiddag vir my gesê hy gaan hierdie naweek vir die blog skryf. So watch this space, soos Francois sê! Gepraat van Natie: Ons moes 'n perseel kry vir die reunie en 'n deposito betaal. Die huur van die perseel gaan ons R6000 kos vir die naweek. Natie was so gaaf om die deposito te betaal. Ons moet nog 'n plan maak hoe om die res te betaal. Indien ons 'n donasie kan kry sal dit baie help. Anders sal ons vir elkeen wat die reunie bywoon 'n fooi vra. Ons sal die inligting nog vir jul later deurgee. Marene Richter het met ons skool gepraat en hulle kry regtig finansieel en maatskaplik. Kan julle dalk help om aan 'n plan te dink om hulp te verleen of geld in te samel. Dit gaan so sleg dat hul water en ligte afgesit was op 'n stadium. Marene kan vir ons meer inligting gee, sal haar vra (dwing?!) om te skryf.

As daar vra is kan jul maar vra. Ons sal jul insette waardeer.

Herkie groete

Elize

Class of 1978 - Francois

Hallo daar,
Soos almal van ons het daar soveel dinge met ons gebeur in 30 jaar dat jy nie weet waar om te begin nie. Sover dit myself betref seker die belangrikste gebeurtenis my vrou Welna, wat ek in 1982 ontmoet het. Welna het in Groblersdal groot geword en op NKP geswot waar ons ontmoet het, kan my nie indink 'n lewe sonder haar nie.

Ons het 2 wonderlike kinders, Le Roux het sy ma se nooiensvan as naam gekry en ons het my naam so bietjie " gepanelbeat" om vir Franconette te help met 'n naam, haar pa se oogappel.

Le Roux het klaar geswot het en beklee 'n wonderlike pos in die IT bedryf. Franconette is tans in haar 3de jaar by Tuks besig met 'n BSC Bourekenkunde. Sy het groot planne vir die toekoms, watch this space!!

Welna is 'n onderwyseres by 'n laerskool in Centuriuon en spesialliseer in Remediering. Sy het so paar jaar gelede aan die swot geraak en 'n Honneurs en M voltooi. Sy oorweeg tans die moontlikheid om met 'n doktoraal te begin. Weet nie of ek moet uitsien daarna of moet stres nie, dit gooi nogal die huishouding om ver.

Wat my self betref werk ek vir die afgelope 20 jaar by WesBank waar ek 10 jaar takke bestuur het, by verre die lekkerste werk wat ek nog ooit gehad het. Het in 1988 in Witbank begin en die hele ou Transvaal my deel gedoen, van Nylstroom, Tzaneen, Brits tot in Centurion.

Op die oomblik het ek 'n kantoor in Pretoria en is verantwoordelik vir Ford, Land Rover, Jaguar en Volvo asook al die Chinese produkte wat die land instroom. Ek geniet my werk vreeslik baie, veral die mense aspek hiervan, asook die kans om binnelands en oorsee te reis. Buiten vir die kans om al die mooi plekke in ons land te sien was ek bevooreg om die laaste 2 jaar Engeland, Finland, Swede, Bahamas, Kuba, Amerika, China, Egipte, Mauritius en Zambie te besoek. Alhoewel ek alles baie geniet bly Suid Afrika steeds die beste plek ten spyte van al die probleme.

Ons woon die afgelope 15 jaar baie gelukkig in Centurion. Met Le Roux in sy eie huis en Franconette in die koshuis is dit net ek en Welna en 2 honde, seker die mees bederfde brakke in die hele Pretoria, 'n Maltees en 'n worshond met die naam Frikkie, die beste hond wat ek nog ooit gehad het. As jy na hom en sy maniere kyk bly ons in sy huis.

Verder is ons in die gelukkige situasie dat beide Welna en my ouers nog leef, voorwaar 'n groot voorreg om hulle gereeld te sien.

Sien julle almal in Oktober.

Groete,

Francois
082 554 7768


ps - die langste afrikaanse brief wat ek in jare geskryf. WesBank het defnitief baie meer vir my engels gedoen as vir my afrikaans

Monday, April 7, 2008

Komaan Manne!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Gaan julle regtig toelaat dat die dames julle stof in die oë skop? Al tik jy net met 2 vingers behoort dit net 1 oggend te neem!!!!!!!!!!!!!!!!

Saturday, April 5, 2008

Dalene (Viviers)

Dalene (Viviers) het die aanvanklike reelings getref vir die naweek te Willem Prinsloo Landbou Museum. Hier is nog goeie nuus. Dankie vir al jou moeite Dalene.

More Elize,

E-mail adres is honderd persent. Ek was op kursus en vir lank periodes uit die kantoor, jammer ek kom nou eers terug.
Ek glo dat ons afslag by die restaurant sal kry, ek sal Boet-hulle vandag bel en uitvind hoe hulle ons tegemoet sal kom.
Wat beplan julle ten opsigte van die etes. As jy my moontlik ‘n aanduiding kan gee, hoeveel keer wil julle van die restaurant gebruik maak en waste etes het jy ingedagte. Laat weet my maar, dit maar dit net soveel makliker om ietsie met hulle te reël.

Wel omtrent myself. Ek is met ‘n Meganiese/Elektriese Ingenieur getroud en het net een seun, Franco. Net soos ek, is hy ook in die IT bedryf, maar in die netwerk kant. Hy reis die land vol en is nog ongetroud, en daar is nog geen kleinkinders nie. Ek het na matriek by Binnelandse Sake begin werk in deportasies, en ‘n diploma in administratiewe bestuur verwerf. Na 12 jaar het ek oorgeskuif na die Dept van Water Wese en Bosbou en is nog steeds werksaam hier. Ek is tans besig met my graad in “Logistic Management” en sal na die einde van hierdie jaar besluit waarna toe verder.

Ek diens tans op die Jakaranda Fietsryklub se bestuur as PRO. Ons is geaffilieer by Fietsry Suid-Afrika en Gauteng Noord. Ek het drie jaar gelede Gauteng Noord kleure vir fietsry gekry en ook ‘n spesial toekenning vir 2500km wat ek in dertien verskillende wedrenne gery het. Na ‘n ongeluk twee jaar gelede het ek ‘n bietjie slap gelê en begin nou eers weer oefen. Ek is egter van voorneme om volgende jaar weer aan die Pick-n-Pay Argus deel te neem. Om bietjie fiks te bly ry ek en my broer se dogter, (7jaar) ry elke Sondag oggend perd by die Voortrekker Monument.

Ek wag verder om van jou te hoor aangaande die etes.

Groete


Dalene

Thursday, April 3, 2008

Ina Enslin (Van Vuuren)

Ja nee dis defnitief 'n bloot natuurlike verskynsel wat weereens hier sy koppie uitsteek. Vroue is maar net meer ingestel om mekaar of 'n situasie emosioneel te voed. Hier is ons wel besig om dit te bevestig. Kom nou manne skrywe vir ons julle storiekies, of vra julle beterhelftes om dit namens julle te doen. In alle geval hier is myne.... Gonnas ek kon nog nooit 'n goeie opstel geskryf het nie, wat staan nog 'n goeie stukkie oor myself te vertel. Seker maar waarom ek op skool altyd verkies het om eerder 'n sangitem te lewer as om self aan die debat deel te neem.ha-ha-ha.. maar ag let's go..... Ek het 29 jaar gelede trou belowe aan Ben Enslin. Ons het 2 seuns. Treben , 28 jaar oud en Neil 25 jaar oud. Treben is verloof en trou in November en Neil het sopas einde Maart getrou. Albei die seuns het hulle ingenieurs studies voltooi en ons is baie trots op die twee manne. Ek en Ben het albei ook Meganiese ingenierswese gestudeer. Ek het vir jare lank in die Ingenieursveld gewerk, maar het vir die laaste 10 jaar as Administrateur by die Richards Bay Community Kerk en temp/aflos wiskunde en rekeningkunde onderwyseres by die RBay Christian School gewerk. Wat 'n ondervinding en leerskool vir my. Darem leef al die kinders nog asook het hulle almal goed geslaag. Sedert 1 Februarie woon ons in Mozambiek (Maputo) en is ek tans huisvrou. Wat 'n belewenis ! Dis een groot organising storie van die more tot die aand. Sjoe. Dis baie makliker om somme te maak ! Maar Ben vertel vir almal dat hy dink dis tyd ek lyk nou oud genoeg om maar op pensioen te gaan. Ek hoef nie my reaksie te verduidelik nie ne ?? Ag wat ek bly lekker en is baie gelukkig. Nou ja vir eers is dit al wat ek kan se. Ek sal soos die tyd aanstap, my ou storiekie optop !! Ek is nogal nuuskierig om te sien watter een van die manne eerste hulle ding gaan doen hier op die BLOG ???? Tot later



In Sy Liefde

Ina

Tuesday, April 1, 2008

Baie dankie aan almal wat tot dusver 'n bydra tot die Blog gelewer het. Kamaan, wat is fout met al die ander?
Ons soek asb. nog kontak besonderhede. Stuur dit aan herculesreunie@gmail.com sodat ons nog meer van die ou skoolmaters uitnooi na die reunie.
Maretha